VUUR EN VLAM !!! 2007-05-03 02:50:20
Valiant Swart en die boeremusieklegende Ollie Viljoen het onlangs hul eerste gesamentlike album Vuur en Vlam uitgereik.
Die album bevat sewentien snitte, bestaande uit tradisionele boeremusiek en volksliedjies, asook talle splinternuwe skeppings. Daar is byna ewe veel instrumentale as vokale nommers, oorwegend in die volks- en boeremusiek idioom, afgewissel met invloede uit die twee kunstenaars se gedeelde passie vir blues en cajun/jazz/sigeunermusiek.
Ollie speel akkordion, klavier en Hammond-orrel, terwyl Valiant sing en die kitare speel. Uitgesoekte musikante, deur Ollie en Valiant gedoop Die Mystic Boereorkes, het kragte saamgesnoer om onweerstaanbare vonkel aan die album te verleen. Daar is, onder andere, die konsertinakaptein Barney van Dyk, die dromme-en-perkussie maestro Barry van Zyl, die viool-fenomeen Wynand Davel, die trompetgeskal van Adriaan Brand en die bobaas blues-bekfluitjie van Dave Ferguson. Verder verskyn Laurinda Hofmeyr as spesiale gas op My hart verlang na die Boland, een van die ou gunstelinge.
Die opnamesessies is volledig vir DVD verfilm, wat gereed is om binnekort uitgereik te word. Redigering hiervan is gedoen deur Neil Sandilands en die vervaardiger is Johan Badenhorst, van Live in die Staatsteater en Voetspore-faam.
Twee besonderse insluitings is opnames van liedjies van George Snyman, houtkapper en kitaarspeler van Malgas. Oom Jolla, soos hy ook in daardie geweste bekendstaan, en Valiant het drie jaar gelede ontmoet en haal gereeld die kitare uit om saam musiek te maak. Valiant en Ollie het besluit om van Oom Jolla se liedjies op te neem, en die resultaat, gesing in die oorspronklike streeksdialek, is werklik iets besonders - aards en eerlik.
Verdere opwindende toevoegings sluit in Valiant se toonsetting van die G.A. Watermeyer-gedig "Ballade op die dronkparty". Die gedig is oorspronklik in die 1948 bundel "Sekel en Simbaal" gepubliseer, en was heel natuurlik gekies vir toonsetting, aangevuur deur Ollie en Valiant se gelyke liefde vir Afrikaanse poësie, Bolandse rooiwyn en goeie ou samesyn.
Die aansteeklike vonk tussen hierdie twee legendes kom nie sommer van gister af aan nie. Ollie en Valiant het mekaar sewe jaar gelede tydens TV opnames ontmoet en entoesiasties aan die gesels geraak oor boeremusiek en blues. Hul onblusbare musikale verbond is spoedig gesmee. Twee jaar later was hulle altwee in Londen by die UKkasie fees. Valiant het tydens Ollie se laataand-sessies in die markiestent skelmpies op die verhoog geklim en saam met die boereorkes kitaar gespeel. Dit het gelei tot deurnag jam-sessies in hul hotelkamers, en die idee om eendag hul talente saam op CD te verewig, is gebore. Nadat die Oppikoppi-bestuur hulle een of twee maal saam op die verhoog gekry het, het hulle uiteindelik verlede jaar ateljeetyd bespreek en vroeg vanjaar binne drie weke hul album opgeneem.
Vuur en Vlam is die resultaat van hul liefde vir boeremusiek, en hul oortuiging dat hierdie eg Suid-Afrikaanse musiekstyl wêreldwyd in trotse harmonie met ander volksmusiekstyle (Cajun/Celtic/jazz/blues/Gypsy/ens) leef, dat dit gekoester en bewaar moet word, en dat dit met soveel mense as moontlik gedeel moet word.
Die album, en eersdaags ook die DVD, is landwyd in alle goeie CD winkels verkrygbaar. Individuele snitte, of die album in geheel, kan afgelaai word by www.mymusiek.co.za .
|